|
Inleiding:
Hierdie kuierplekke is van kardinale belang. Hulle kan bestaan uit 3-15 mense. Verskillende lede van die gemeente stel hulle huise oop om bymekaar te kan kom. Woensdagaande is die aande wanneer daar vergader word. Strategies word dit beplan sodat `n mens nie vêr hoef te gaan om by `n sel in te kan skakel nie. Hierdie huisselle word gebaseer op die Woord volgens:
Ex.18:13-27 - En die volgende dag het Moses gesit om reg te spreek vir die volk; en die volk het voor Moses gestaan van die môre tot die aand toe En toe Moses se skoonvader sien alles wat hy vir die volk doen, sê hy: Wat is dit wat jy vir die volk doen? Waarom sit jy alleen, en die hele volk staan voor jou van die môre tot die aand toe? En Moses antwoord sy skoonvader: Omdat die volk na my kom om God te raadpleeg. As hulle 'n saak het, kom hulle na my; en dan moet ek regspreek tussen die partye en die insettinge van God en sy wette bekend maak. Maar Moses se skoonvader sê vir hom: Die ding wat jy doen, is nie goed nie. Jy sal heeltemal uitgeput raak, jy sowel as hierdie volk wat by jou is. Want die saak is te swaar vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie. Luister nou na my; ek sal jou raad gee, en God sal met jou wees. Wat jou betref, wees jy die verteenwoordiger van die volk by God en bring jy die sake voor God, en onderrig hulle in die insettinge en die wette, en maak hulle die weg bekend waarop hulle moet gaan, en die werk wat hulle moet doen Maar kies jy uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat. En stel dié aan oor hulle: owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien; en laat hulle voortdurend oor die volk die regspraak uitoefen: al die groot sake moet hulle na jou bring, maar in al die klein sake moet hulle self regspreek. Maak dit so ligter vir jou, en laat hulle saam met jou dra. As jy dit doen en God dit jou beveel, kan jy dit uithou en sal ook al hierdie mense tevrede na hulle woonplek gaan. Moses het toe geluister na sy skoonvader en alles gedoen wat hy gesê het-- Moses het bekwame manne uit die hele Israel gekies en hulle as hoofde oor die volk aangestel--owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien. En hulle het voortdurend oor die volk die regspraak uitgeoefen: die moeilike sake het hulle na Moses gebring, maar in al die klein sake self reggespreek. Toe het Moses sy skoonvader laat gaan, en hy het na sy land getrek.
Handelinge 12:12 - En nadat dit vir hom duidelik geword het, kom hy by die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem word, waar baie in die gebed bymekaar was.
1 Kor. 6:19 - Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?
Dit is hier waar daar met meer vrymoedigheid opgetree word. Die sel is vir wie ookal wil deel hê, nie net gelowiges nie maar vir die ongelowiges ook, want die Woord van die Here word hier verkondig. oorgedra, gedeel en bespreek. Dit is werklik `n plek waar ‘n mens meer gemaklik kan optree.
Die Doel:
Die huissel is werklik `n kuierplek, maar moet nie gesien word as `n plek waar ander lede bespreek kan word nie. Dit is nie `n "one man band" of ‘n kerkdiens nie. Nee, stellig nie. Die leier moet Geesgevuld wees, die vrug van die Gees openbaar en met liefde die sel aanvoer. Almal word `n kans gegun om vrae te vra, te deel, te getuig, te bid en Woordstudie te doen. Hier word ‘n geleentheid geskep om mekaar se laste te help dra. Daar word saam gesing en aanbid. `n Leerbare gees moet ten alle tye geopenbaar word sodat geestelike groei kan plaasvind.
Patroon
Alhoewel dieselfde lesse by die verskillende huisselle aangebied word, is elke sel verskillend van mekaar. Die Gees van die Here lei almal in die rigting van Sy keuse. Daarom is dit so noodsaaklik dat elke Geesgevulde kind van die Here ingestem sal wees vir Sy leiding en gehoor gee aan die stem van die Here. Lesse wat voor-af deur die Herder van die gemeente oorgedra is aan die leiers, word op die aand bespreek. Indien die leier nie beskikbaar is nie, word die “tweede in bevel” aangestel om die leiding te neem. Huisselle word so informeel as moontlik, aangebied. Daar word geopen met gebed en verwelkomings word gedoen. Partymaal word saam sing, partymaal word die Woord net bedien en partymaal word daar net saam gepraat. Partymaal eet en kuier ons net lekker saam. Die hoofsaak is: STIGTING en OPBOUING. Daar kan `n woord van vermaning ook wees en selfs waarskuwings. Daar moet nooit uit die oog verloor word dat ons vyand soos `n brullende leeu rondloop nie, dus word ons ten alle tye bemoedig deur die volgende: “Hy (die Here) wat in ons is, groter is as hy (die duiwel) wat in die wêreld is.”
Wil jy groei?
- Wil jy vry wees van jou skugterheid?
- Wil jy jou selfvertroue opkikker?
- Wil jy jou bediening vind?
Die plek waar jy al hierdie dinge kan kry, in informele omstandighede, waar almal gemaklik met mekaar verkeer, is by die huissel. Die Here sê: “Kom, laat ons die saak uitmaak en jy sal sien wat Ek vir jou kan doen.” Die beste plek om ‘n begin te maak is by die huissel.
Daar is ‘n spesiale uitnodiging aan elkeen om in te skakel by ‘n huissel. Kom laat ons die Here ken in die saak. Op die weeklikse blaadjie wat by die deur uitgegee word, word al die huisselle en –leiers se inligting verskaf. Skakel in by een van die selle. Dit sal jou hele lewe verander!
Oom Jan Roux
|