|
|
Psalm 98:4-8 - Juig voor die HERE, o ganse aarde, breek uit en psalmsing! Psalmsing tot eer van die HERE met die siter, met die siter en die stem van gesang, met trompette en basuingeklank; juig voor die aangesig van die Koning, die HERE! Laat die see bruis en sy volheid, die wêreld en die wat daarin woon. Laat die riviere in die hande klap, die berge tesame jubel voor die aangesig van die HERE; want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld rig in geregtigheid en die volke met reg.
Ons kan die skrifgedeelte sien as ‘n direkte opdrag uit God se Woord. Hy beveel ons daarin om musiek te maak. Een en elkeen van ons in die musiekdepartement is daar omdat ons ‘n spesiale talent ontvang het wat ons tot eer en verheerliking van God se Naam kan gebruik. Ons is nie daar om deur die mens gesien te word nie, maar om vir die Here te werk. Ons kon so maklik vir die wêreld gesing en gespeel het, ‘n spesiale talent wat dan verlore sou gaan.
Hoe moet ons die Here aanbid in musiek?
Deur ons gedagtes te vul met die gedagtes van God. Ons moet hom met hart en siel aanbid deur te jubel en te juig en in lofsang uit te bars. Aanbid God met jou liggaam deur te dans, hande te klap en musiek te maak. Ons moet God aanbid deur ons alles aan Hom te gee – Ps 117:1 LOOF die HERE, alle nasies! Prys Hom, alle volke! Deur te aanbid, veral met sang en musiek, is iets wat ons vir altyd sal doen. God begeer dat ons Hom moet aanbid, selfs al voel ons nie altyd lus daarvoor nie. Die hoofrede hoekom ons hier is, is om God te plesier, en deur sang en musiek kan ons waarlik die Hart van God blymaak. Deur God in lofsang te prys en te aanbid, bring groter tevredenheid as enigiets anders wat die wêreld ons kan bied. God het ons gawes en talente gegee wat ons aan Hom moet teruggee. Deur ons musiek en sang kan ons soveel aan Hom teruggee en daardeur ontvang ons weer soveel terug van Hom. Mense kom soms teneergedruk en depressief kerk toe. Musiek kan so ‘n groot verskil maak. Deur net te luister en saam te aanbid kan ons ontspan en in die teenwoordigheid van die Here kom. Hy sal dan al die depressiwiteit en negatiwiteit van ons wegneem.
God is so goed vir ons. Hy het ons so liefgehad dat Hy Sy Seun aan die kruis vir ons sonde laat sterf het. Ons begeerte is net om ‘n instrument in Sy hand te wees. Die eie ek is niks, maar in Hom kan ons jubel en juig, want Hy maak alles nuut. Ons gebed is dat die Here ons moet gebruik as ‘n instrument in Sy Hand. Dat Hy ons ore moet sluit vir negatiewe kritiek en houdings van mense. En geniet die duiwel dit nie as hy dit regkry om ons negatief te maak nie! Dit slaan dan ook onmiddelik deur in ons musiek, want op daardie manier wil hy ons probeer keer om in aanbidding en lofprysing voor God te kom.
Visie
Ons toekomsvisie is om nuwe sangtalent vir die Here te werf. Maak nie saak hoe oud jy is of hoe jy lyk nie. Al vereiste is dat jy ‘n musikale talent moet hê en ‘n begeerte om dit tot eer en verheerliking van die Here te gebruik. As ons ons talente vir selferkenning wil gebruik, sal dit een of ander tyd skipbreuk ly en sal ons nie baie ver kom nie. Ons visie is dat die hele verhoog vol musikante sal wees, van voorsangers, dromspelers, saxofoonspelers, viole, mondfluitjies, noem maar op. (We want to make a joyful noise unto the Lord). Die uiteinde sal wees dat ons meer as een musiekgroep kan stig. Sal die nie wonderlik wees nie! Ons gaan ook meer mense van die musiekdepartement betrek om die koortjies te lei. Hierdeur kan ons net groei in die Here. Hy het vir ons die talent gegee, ons moet dit tot eer en verheerliking van Sy Naam gebruik. Ons is nie daar om die gemeente op te sweep nie, maar om te doen wat God van ons verwag. Ons beplan ook om binnekort ons eie CD’s te sny wat dan aan die gemeente beskikbaar gestel sal word.Ons glo ook dat die Heilige Gees elkeen van ons op ‘n besondere wyse gaan aanraak en gebruik, hetsy deur in tale te sing, of net soos Hy goeddink, maar ons moet oop wees vir Sy werking. Ons moet gefokus wees op Sy werke. Ons dank die Here vir die wonderlike band wat daar tussen ons is. Ons is regtig baie naby aan mekaar.Ons begeerte is om soos Dawid en die huis van Israel, met alle mag voor die aangesig van die Here te dans en juig met basuingeklank!
Engela Stydom
|